Malgasrit

22-24 Maart 2024

Deur Anelia Marais

Ek maak langnaweek en ry kuier-kuier Malgas toe. Ek is die enigste persoon wat gaan ry, maar na twee ritte afgestel is vanweë gebrek aan belangstelling (terwyl ek albei kere ‘n perd gehad het!) weier ek om ‘n rit af te stel. Wat het ek nodig om te ry? Mos net ‘n perd – wat ek teen ‘n baie bekostigbare prys by Sandra huur.  En ‘n gids wat die pragtige Malgas soos die palm van haar hand ken – sy het immers daar grootgeword.  

Laatmiddag stop ek by Sandra se Milkwood Horse Trails en ons gesels vinnig oor die hoe en waar van Saterdag se rit.  Dis net ek, Sandra en Naomie wat Saterdag gaan ry, maar daar is nog ‘n paar mense wat Sondag by ons wil aansluit. Ek glip oor die pad na Milkwood Bush Camp toe en slaan vinnig my tentjie op.  Die wind pla en ek kap vas en bind vas so goed ek kan. Kort daarna kom kuier een van die veldperde by my en ek maak die fout om hom ‘n paar druiwekorrels te gee. Ek het ‘n vriend vir die res van die naweek, lyk dit my!

Nuuskierige ponie by die kampplek

Noleen, van die kampplek, kom maak ‘n draai en sê die wind gaan lê gewoonlik rondom 6 uur – tensy dit reën. Ek lyk seker verbaas, want sy sê daar is reën voorspel vir die aand, alhoewel daar net ‘n paar wolke op die bergtop lê.  My tentjie is nog nuut, maar die materiaal lyk vir my maar baie dun. Ek weet valskermspringers waag hulle lewens met die tipe materiaal, maar ek maak ‘n plan. My ma het met ‘n rit wat ek en my pa jare gelede in Aurora bygewoon het, geweier om op die grond te slaap. Sy het bloot hulle sponsmatras op die motor se platgeslaande agtersitplekke ingeskuif en heerlik geslaap terwyl ek myself jammer gekry het op die vloer van die skousaal in Aurora.  Net daar slaan ek die motor se sitplekke plat en stoot die matras in. Na ‘n vinnige draai in die ablusieblok – ek wou nog ‘n foto neem van daardie baie interessante stortkop wat bloot ‘n onderstebo 5-liter waterbottel met gate in is, maar het skoon vergeet – begin dit sowaar blits en donder. Ek kruip net na 7 in my motor en lê en verkyk my aan die blitse.  Ek probeer dit selfs afneem – makliker gesê as gedoen, maar kry toe darem ‘n paar foto’s met my selfoon geneem. Geen idee waar die groen en pers vandaan kom nie! Daardie nag sukkel ek maar om te slaap – ek is warm en droog en redelik gemaklik, maar die helder lig van die blitse en die bedompigheid in die toe motor hou my baie wakker.

Blitse met my selfoon afgeneem vanuit my bed in my motor

Saterdagoggend is dit net bewolk en ek sien uit na ‘n lekker rit. Ek ontdek ek het my tentjie se ‘fly sheet’, daai stukkie lap wat bo-oor die gaas pas, verkeerdom opgesit. Met die geflapper in die wind het ek nie besef die ding is nie vierkantig nie en in my haas, die oop gaas misgekyk. Natuurlik is my tent lekker nat en ek bedank my oorlede ma in my gedagtes. Ek draai die ‘fly sheet’ om, verseker dat my tent nou waterdig is. Toe ek by Sandra opdaag 9.30, lig sy my in dat Witsand ‘n waarskuwing van die weerburo gekry het vir swaar donderweer.  Ons besluit om die beplande 4-ure rit in ‘n paar korter sirkelroetes te vervang sodat ons kan omdraai as die weer dreigend raak. Sandra op Inke, haar “groen” Friesmerrie, Naomi op Faffa en ek op Tertius, Boerperd van oor die 20 (maar hy weet dit duidelik nie).

Faffa, Boerperd x Percheron of liewer, Boerperdlyf met ore van ‘n Percheron. Op die foto’s wys gewoonlik net sy twee lang ore! Ons ry al langs die rivier op (nog) een van Sandra se familielede se plase.

Die reën wil-wil uitsak

Dennebos

Elfuur kom en gaan, maar ons sien niks van die voorspelde storm nie. Dit begin so effens drup en ons draai huis toe. Ons sal die weer dophou en drieuur weer ‘n ent gaan ry. Ek spandeer die tyd met ‘n boek in my motor. Dit reën steeds nie juis nie, net hier en daar ‘n paar druppels.  Teen drieuur het die voorspelde storm steeds nie gearriveer nie, en ons vertrek vir nog ‘n rit. Sandra is die slag op Zeus, ‘n 16.2 h resiesperd wat gelukkig nie in sy 5 lewensjare jare ooit die renbaan gesien het nie. Hy is die rustigheid vanself en moet mooi gevra word om te galop. Eintlik strek hy sy lang bene net meer in ‘n ongelooflike draf as sy hom aanspoor. Ons ry die ”agterste” stuk van die 4-uurlange bergrit wat ons mos nie die oggend gery het nie. Alhoewel die wêreld vol uitheemse plante is, maak dit steeds ‘n mooi prentjie en ons ry lekker.

Welige plantegroei langs die rivier

Skielik hoor ons die donderslag en die eerste druppels val. Ons draai summier om en vat kortpad deur die veld. Sandra weet daar is ‘n hek, maar die hek is ietwat oorgroei. Sy sukkel om die paal uit die onderste draad te lig toe Zeus besluit hy stap oor – ja, met sulke lang bene sou ek dit ook gedoen het! Ongelukkig beland sy poot in die hakkiesdraad en Sandra vra hulp. Zeus is redelik rustig, maar mens bly mos maar bekommerd en die donderweer slaan ook met blitse tussenin. Net toe ek en Naomie afklim om hand by te sit, lig Zeus hom bloot op sy agterpote en sy poot gly maklik uit. Slim perd! Die laaste entjie is nat en die blitse slaan om ons. Ek bly tel in my kop – 1, 2, 3 – om te sien of dit darem 1km van ons af is, maar die blitse en donder is deurmekaar en ons laat waai terug stalle toe, al klaar goed nat. Ons saal vinnig af en besluit om maar te sien wat die weer deur die nag en Sondagoggend  doen.

Terug by my tent sien ek nie kans om die matras uit die motor tot in die tent te sleep nie.  Kans vir braai is daar ook nie, maar ek het gelukkig nog oorskiet van die vorige dag se kos. Koffie maak ek op my kampstofie by die opwasplek uit die reën. Ek gaan stort vinnig en klim onder die reën weer in my motor – darem droog. Die hemel maak oop en dit reën. En reën. En reën! Die oggend se 11-uur storm, uiteraard. Die volgende oggend klaar dit rondom 7.30 op. Ek wik en weeg – ek hou nie daarvan om in die reën te ry nie. Maar ek dog ek sal maar my ryklere aan trek, maar ook oppak voor ek oor die pad ry. My ryklere het ek in die tent oopgegooi om droog te raak deur die nag… of so het ek gedink.  My tent is sopnat en my klere kan ek uitdroog. My tentjie is toe NIE waterdig nie… Summier besluit ek om op te pak – ek vat die pad huis toe.  Ek bondel nat klere en nat tent alles in my arme geduldige motortjie. Stop vinnig by Sandra om verskoning te maak, maar sy sê daar is nog reën voorspel en sy het maar die ander mense laat weet ons gaan nie ry nie.  Ek kyk gou in die reënmeter wat onder ‘n boom hang – 25 mm vir die nag!

Ek vat die pad – was bietjie bekommerd oor die nat grondpad, maar behalwe vir ‘n paar nuwe poele water en slootjies en stroompies, word die pad goed onderhou en ek ry sonder probleme. Hierdie grondpad lyk na die reën beter as party dorpe se hoofstrate sonder reën!

Volgende jaar maak ons weer so as ons gespaar bly. Die 21e Maart val op ‘n Vrydag en dis lekker langnaweek. Sandra is aan die onderhandel om op Potberg te gaan ry. Witsand is ook ‘n opsie.

Dankie aan Sandra en Naomie – ek het heerlik gery.

Sandra weet hoe om haar ruiters en perde bymekaar te laat pas. Kyk dan hier, ek en Tertius is ewe grys!

Lewer kommentaar