Pippa se Caledon-rit 28/29 November 2020

My rit het net vier mense gehad, daar was veronderstel om meer te wees, maar weens gesondheid probleme kon hulle  dit nie maak nie.  Gail Nel en haar vriendin Marita het Vrydagmiddag opgedaag. Sonia Jones het ook later aangekom. Weens die klein  groep, kon die perde in kampies voor ons huis staan. Pragtig om ’n paar ander kleur perde onder die oog te hê – Gail se Palomino en Marita se Bruin en wit merrie.

Na ‘n lekker gesellige braai, Gail het gebraai, aangesien sy mal is oor braai,  het ons gaan slaap. Saterdag was lieflike weer vir ry – bewolk met ’n koel bries. Ons het deur die plaas gery en ’n klein ent op die grondpad om by ons buurman uit te kom en dan met  die kruin van die  Klein Swartberg verder.   Die blom paadjies was effens gespoel na die goeie winter reens, maar die uitsig was asemrowend mooi. Ons het afgedraai om na ’n uitsig punt te ry wat oor die Caledon distrik kyk,waar ons die  geleentheid met Oom Leonards se “Bokmelk” gevier het. Ons het stadig gery, maar Sonia se glimlag was breed na 3½ jaar se nie ry nie…

Al deur die Klein Swartberg Bewarea  en dan afgesak deur die plaas Dwaalhoek tot op ’n grondpad. By ’n klein rivier afgesaal vir ete, waar Andy ons ontmoet het met ons cooler boxes en hooinette.

Daarna het dit bietjie warmer geword en die graan stropers het aan die gang gekom.

Om die pad met die groot 30 ton graan lorries te mis, het ons ’n ompad gery deur ons buurplase, waar Gail en Marita darem ’n galoppie of twee deur die stoppel lande kon vang – ongelukkig het Marita haar perd se boots skoon afgehardloop.  By die huis het ons lekker ontspan, gestort en ’n drankie geniet. Daarna het ons Gail se jong Border Kollie op skape probeer vir die eerste keer. Weer die aand lekker gebraai, Gail is ’n bobaas braaier….

Sondag het net ek en Gail gery, Marita se boots was stukkend en Sonia het besluit om rustig te wees. Ons het ’n sirkel roete gery deur ons plaas en ander buurplase. Bietjie vinniger gery en vreeslik geniet. Weer by die huis het Sonia vir ons ‘hotdogs’ gemaak, wat goed afgegaan het. Na nog ’n ‘dog training session’ het almal opgepak en huiswaarts gekeer. Baie dankie vir die lekker gesellige naweek, hoop om julle weer hier te hê.

Suikerbossie, 21 & 22 Nov 2020

Verlede jaar se paksaal rit nog vars in die geheue en hier is ons alweer. Ons kamp weer Vrydagaand by die Hanekoms op Suikerbossie in die kampterrein wat hulle verlede jaar ook aan ons allokeer het. Die gasvryheid is oorweldigend!!  Marius  Olivier het weer gereël. Toe ek ongeveer 19:00 Vrydagaand aanland is Marius, Johan Bester en Johan Bredenhand reeds daar met vier perde. Drie om te ry en die vierde een om die drie manne se bagasie te dra. Ons pakkie bestaan ook uit vier perde en ekself, Nicolize en haar man, Daniel deel ook ‘n pakperd tussen ons drie. Ons was skaars daar of Christiaan Rabie en Zanelle daag op met hulle drie arabiere. Ons is nou voltallig vir die aand en verwag vir Etienne Engelbrecht en Yolanda more oggend om 8 uur.

Die oorstaanplek vir Saterdagaand was nie beskikbaar nie en Marius het op kort kennisgewing ‘n ander plek gekry vir Saterdagaand se oorstaan. Hierdie staanplek was nader en baie toeganklik vir motorvoertuie. Dit het gemaak dat die Engelbrechts sonder ‘n pakperd maklik hulle kamptoerusting  vir Saterdagaand met ‘n geleentheid  kon laat aflaai. Hulle is verskoon hierdie keer. Hulle kon nou genoeg tips vang vir die volgende keer.

Ons het vuurgemaak, gebraai en ou stories verkoop en later langs die vuur en die perde geslaap.

Saterdagoggend om ongeveer 9 uur vertrek 10 ruiters en 13 perde op Suikerbossie se 4X4 roete. Sommige perde is haastig, maar ontspan gou. Ons ry met ‘n tweespoorpad om mettertyd by die Sandfontein toegangspad aan te sluit en daar begin ons die berg vat. Al met die kontoer om met mooi uitsigte oor Suikerbossie en in Kunje se rigting. Middagete is onder ou akkerbome met ‘n lekker koel luggie wat trek. Ons stap teen ‘n lekker pas op die bergpaadjie en kom vroeg by ons kampplek aan. Die perde wei en word later aan die lyne vasgemaak. Dis interessant om te sien wat alles uit die saalsakke uitkom. Mens is nooit te oud om te leer nie. Ons kyk mekaar se paksaals deur en maak planne waar om te verander vir volgende keer.

Daar word weer gebraai en gekuier om die vuur. Sondagoggend begin party ouens vroeg roer. Daar is baie tyd, want vandag is die pad nie so lank nie. Die perde word mettertyd opgesaal en gepak om die laaste skof te doen.  Terug by Suikerbossie hou ons bietjie nabetragting en middagete  voordat almal weer uitmekaargaan. Dit was ‘n spesiale naweek met baie kameraadskap. Dankie aan almal wat daartoe bygedra het.

Perdegroete
Nic Esterhuyse

Etienne se leenperd, Cheecky (Predikant), het hom buitengewoon goed gedra vir ‘n 1ste Ruiterpadrit vir 2020, maar die ‘confusion’ van die herontmoeting met sy ou vriende van Porterville het uiteindelik sy tol ge-eis toe Cheecky 25m vanaf die einde van die rit nie kon kies tussen die geselskap van Laman en Spirit nie. Hy besluit toe om maar dan eerder sywaarts en langs die gebaande weg te ry sodat hy sy oog op albei vriende kan hou. Tussen ‘n grasieuse dresseer beweging en extended trot  het hy ‘n lae tak oorskat en die laagste wat Etienne kon buk, was nie laag genoeg nie.

Ellen se rit, Wellington

10 Oktober 2020

Ek was aanvanklik nie baie lus om ‘n ritverslag te skryf nie siende die gebrek aan belangstelling wat getoon is, maar ek sal dit afmaak as Covid-19/2020 redes en dus tog maar skryf, al is dit dan net om te wys wat diegene gemis het wat nie wou kom ry nie. Dan is daar natuurlik ook die wat al meer begin inspan eerder as om op die rug te ry. Seker maar die ouderdom wat begin tel?

Nietemin, op ‘n baie winderige Saterdag oggend het 4 ruiters, waarvan 2 ruiterpadlede is, vanaf ons huis teen die hang van die Hawequa berg buite Wellington vertrek op ‘n dagrit. Dit was helder skoon en die lug so blou so blou. Ons het met ‘n bergpad gery verby die Hawequa Scout Camp en van daar bult uit in die rigting van die Du Toitskloof pas. Gail Nel en twee gaste wat sy genooi het, Tinka en Antje, was in vervoering oor die pragtige uitsigte en kon nie ophou dankie sê vir die geleentheid om te kon saam ry nie.

Ons het bosbou paadjies gevolg tot by die Hawequa bosbou nedersetting waar ons deur nuuskierige kinders aangegaap is. Van daar het ons hoër op beweeg nader aan die pas en weer terug gery in die rigting waar ons vandaan gekom het. Hier het ons ‘n 15 minute koffie breek geneem en die uitsigte en die berge bewonder. Gail en Antje se perde gaan die Baviaans doen en hulle wil toets of hulle perde fiks genoeg is daarvoor. Op die oog af lyk dit heel positief en ten spyte van die steiltes lyk die perde glad nie moeg nie. Die wind help natuurlik ook dat dit nie te warm word en die perde begin sweet nie.

Na 3 ure in die saal keer ons terug na die Scout Camp waar ons langs ‘n bergstroom uitspan vir middagete. Maartin ontmoet ons daar en het ons eetgoedjies en n paar kampstoele gebring.  Die perde word vasgemaak aan ‘n boom tussen lekker lang groen gras.

‘N uur of wat later is dit tyd vir opsaal en ons volg weer die pad hierdie keer teen ‘n koppie uit. Ons ry deur plase soos Klein Waterkloof, Bloublommetjieskloof en Kleine Bosch. Weer eens verwonder ons ons aan die skone prag van die berge en die uitsigte wat strek tot by Piketberg in die verte asook Simonsberg na die Suide. Die hele Paarl/Wellington vallei lê onder ons uitgestrek.

Ons keer terug huis se kan toe en na een en ‘n halwe uur se ry en ‘n totale afstand van 26km vir die dag kom ‘n wonderlike dag tot ‘n einde.

Dankie vir die wat die moeite gedoen het om te kom ry en ek hoop julle geniet die Baviaans rit.

Ek rig ‘n ope uitnodiging aan alle lede om my te kontak indien julle by my wil kom ry. Ons is werklik bevoorreg om op so mooi plek te kan bly en ry.

Tot volgende keer
Ruiterpad groete
Ellen Lombaard

Jacobus se jong perde rit, Robertson (2) 14-15 Maart 2020

Oor hierdie rit is daar sommer twee ritverslae – omdat Anélia nie Sondag kon saamry nie, het Jacobus gevra dat ek ook ‘n verslag moet skryf…

Beurtkrag is op fase 4, die Corona virus dryf die skares na toiletpapier, die markte tuimel en die ekonomiese vooruitsig is duister – hoe lekker was dit nie om vir die naweek weg te breek en van al hierdie dinge te vergeet nie.

My jong perd, Ruggens Extreme, is nog nie twee maande onder saal nie, maar ons is vol moed. Ek en Gail besluit ons gaan ry. Die beplanning was om mekaar iewers langs die pad te kry, maar tussen werksverpligtinge en alles deur kry ons mekaar eers op Worcester toe ons by die veearts stop om ons paspoorte te laat teken.

Ons kom toe darem saam-saam by die kampplek aan. Ek en Emile gaan stop doer op die vlakte, want ek wil ‘n lekker groot kampie kan span vir Extreme se eerste ervaring van die  elektriese heining en ons moet darem plek los vir die res… Gail en Marieta skrop nes onder die bome met Michelle en haar man Ian net oorkant hulle. Anélia slaan tent op langs die oorblywende boom. Jacobus kom maak ‘n draai en vra hoekom ons dan so eenkant is, want dis net ons klompie wat sou kom… Lyk my die reën voorspelling het die mense laat skrik. Oom Fritz kom darem ook Saterdag vir die dag deur.

Daardie aand word daar lekker om die vuur gekuier, maar die “plaaslike bevolking” wonder of die spul Durbanvillers nie eerder by die huis moes bly nie – hulle het gehoor daar is ‘n geval van die Covid-19 virus in Durbanville… Maar ons is steeks en gaan nêrens heen nie. Jacobus is ‘n ware heer en bied aan om namens Gail en Marieta te braai. Alles het goed gegaan tot die hele rooster met braaibroodjies op die grond beland het. Gail het nog probeer red wat te redde is, maar daar was soveel sand selfs die 3 sekonde reël kon hulle nie red nie.

‘n Vriendin van Lizel wou dolgraag saamry, maar haar man gaan die Epic fietstoer doen en het die sleepvoertuig nodig – laat aand kry Lizel ‘n boodskap, die Epic is gekanselleer, sy sal Saterdagoggend by ons aansluit.

Saterdag breek as ‘n pragtige dag aan. Oom Fritz en Isabelle asook Anélia se perd daag op en 10 ruiters vat die pad. Aanvanklik loop die roete deur die boorde en wingerde, maar later vat ons die lekkerste veldpaadjies. Dit bly maar pragtig om daar te ry, die plase is groen en die berge prentjiemooi. So met die ryery vind ek uit dat Lizel se Ruggens Diamant 75% verwant is aan my Ruggens Extreme. Dit was juis omdat ons so beïndruk is deur Diamant dat ons by die Ruggens stoet gaan aanklop het toe dit tyd raak vir ‘n jong perd. Ek wil nou nie te veel “brag” nie, maar laat my darem een sinnetjie se spog toe – Extreme is minder as 2 maande onder saal en het letterlik nie ‘n voet verkeerd gesit nie. Ek sien uit na sommer nog baie Ruiterpadritte met dié merrie.

Op pad terug die middag is ons op ‘n lekker draffie toe ons skielik bewus word van pandemonium hier agter iewers. Michelle se perd het agter geraak en op loop gesit met haar. Skielik is daar wingerd aan haar een kant, ‘n heining aan die ander kant en perde voor haar. Sy slaan brieke aan en daar laai sy sowaar haar ruiter af. Dit kon regtig ‘n lelike ding gewees het, maar gelukkig het Michelle nie seer gekry nie.

Na sy so ‘n entjie gestap het, klim sy op en besef sy het haar foon verloor met die vallery. ‘n Paar ruiters draai saam met haar om en die res van ons gaan wag by die volgende hek. Hier lê ‘n trop beeste ons voor en hulle stel sommer baie belang in hierdie verskynsel.

Ons moet deur hulle kamp, maar hulle wil die perde groet en sommige mag dit in hul koppe kry om te wil ontsnap. Gail is dadelik reg om Cowgirl te speel en die beeste weg te jaag. Die groep is weer voltallig, die beeste is danksy Gail beheer en almal is veilig deur die kamp.

Teen hierdie tyd is dit warm, sommer baie warm en almal sien uit om terug te kom by die kampplek en die rivier. Daar word gou-gou afgesaal en toe is almal met die perde af rivier toe, sommige sommer met ryklere en al. Wat ‘n lekker manier om ‘n lekker rit af te sluit.

Anélia is ongelukkig haastig en verlaat die groep, maar die res van ons skuif nader vir ‘n luilekker middag. Isabelle laai ook haar perd en verlaat ons. Oom Fritz kuier nog so bietjie en Lizel kom van die dorp af met roomys vir almal – wat ‘n lekker bederf! Hansie Volschenk kom laai die (baie lekker) perd wat hy vir Anélia geleen het en sy twee steekhaar Jack Russels soek aandag by almal. Ons lag tog te lekker vir die een se naam – “Balle”, omdat hy net een het…  

Gail maak sommer vroegaand al vuur en na daar lekker gekuier is, gaan kruip almal maar vroeg in.

Sondag breek aan sonder die reën wat voorspel is. Vandag is ons net 6 ruiters. Ons ou merrie, Susie, is die naweek weer dwars en wil nie juis eet of drink nie. Sommer vroeg voel ek sy is nie haarself nie en reël met Jacobus dat ons ‘n korter roete sal volg. Jacobus moet vir Michelle terug na haar huis toe vergesel, so sy roete is vas. Gail en Marieta besluit om saam met my en Emile die korter roete te volg. Toe ons op die plek kom waar ons die veldpad na die koppie toe moet vat, besluit ek en Emile om ter wille van Susie eerder om te draai. Gail en Marieta gaan ry die draai teen die kop. Hierdie rit is toe baie soos ‘n Drasa rit – elkeen ry die afstand wat hom pas…

Wat ‘n heerlike naweek saam met lekker perdry vriende. Die twee plaaslike dames, Michelle en Isabelle, is beslis Ruiterpadlid materiaal en ek hoop ons gaan hulle weer sien.

Baie dankie Jacobus (en Lizel), vir ‘n baie lekker rit. Ek hoop om sommer nog baie saam met julle in julle mooi omgewing te kom ry.

Nou ja, nou is ons terug in die werklikheid en moet ek seker gaan kyk of daar nog toiletpapier in die winkels oor is…

Mooi bly
Alta

Jacobus se Robertsonrit (1) 14 Maart 2020

Oor Koronavirusse, vreemde godsdienste, sieners en selferkende skewe lede…

Ek, die perdlose lid, kry lus vir ry. Alice op Swellendam val gewoonlik vir ‘n dag se ry en ek kontak haar. Sy vra, wat van Jacobus se rit? Ek reken dis perfek. Drie dae voor die rit laat weet sy dat sy ongelukkig’ n onverwagte kuiergas kry en dit nie sal maak nie. Ek laat weet Lizel ons kanselleer en sy stel voor ek nooi Hansie Volschenk, oud-lid in Robertson. Hansie laat weet dis reg, hy laai my perd voor agt af. Mr Delivery op Robertson. 😃

89462905_10220218439843234_5310785138051776512_o[1]Vrydagoggend het ek die beurtkragskedule verkeerd en sesuur, net toe ek my motor vir die naweek wil laai, gaan die krag af. Ek vroetel rond om alles bymekaar te kry in die selfoon se liggie. Erg gefrustreer kry ek nie die stoor se sleutel nie en besluit my saal en toom moet maar bly. Mr. Delivery moet die ook maar ‘deliver’. Vir laaste gryp ek gou die twee sosaties uit die vrieskas wat vir die braai bedoel is. Ek is op pad – via ‘n dag se werk, natuurlik.

IMG_20200314_082903 (002)

Ek kom vroeg genoeg by die kampplek aan om my tentjie op te slaan. Daar is maar min mense. Sou die liewe virus mense nou al weghou? wonder Jacobus so in die stilligheid. Wie weet? Maar ek twyfel sterk. Gail en nog iemand van Durbanville (ek is baie sleg met nuwe name) kom sit by die vuur. Ons staan op 17 siekes in die land en een blykbaar in Durbanville. Onmiddellik word die arme Durbanvillers as die Korona-draers herdoop. Ten minste vir die naweek. Jacobus vertel hy stap in Spar op die dorp. Hy kry ‘n kriewel in sy keel en daar verstar die vrou naaste aan hom en maak summier’ n u-draai. Hy loop later in ‘n ander gangetjie af en nimlike dame verstar by voorbaat. Staar na die rak voor haar sodat sy enige kant toe kan glip as hy sy doelwit bekendmaak! Ja, ons almal lag. Maar vandag, drie dae later, staan ons op 61 gevalle. Hoe erg gaan die ding werklik wees? Die olieprys lê op onder 35 doller/vat en ons uitvoere word reeds negatief geraak.

20200314_073436

Bietjie meer as ‘n jaar gelede, tel my suster’ n verhongerde hond langs die pad op. Van daardie dag af, maak almal wat kan, bene en afvalvleisies bymekaar vir Kosbaar, die optelbrak. Ek haal my sosaties uit. En stop. Lag selfbewus en sê vir Jacobus dis reg, ek gaan nie meer braai nie. Danksy Eskom lê my twee sosaties steeds veilig in my vrieskas tuis en ek het Kosbaar se braksakkie met bene en vetjies saamgebring. Vandat ek met ‘n paar voedselsensitiwiteite getoets is, dra ek gelukkig ‘n paar goed standaard saam. Droëwors, droë vrugte en appels. En casawa tjippies wat dalk volksvreemd mag klink, maar ‘n gesonder weergawe van ‘Chipnicks” is – al het Jacobus besluit dis in China gemaak en dra dalk die Koronavirus!

Ek merk Lizel sit soos ‘n wafferse kaptein en deel net bevele uit aan Jacobus. Iemand maak ‘n opmerking en Jacobus sê: Lizel het mos ‘n ruggie. Natuurlik vra ek uit na die oorsprong. Jacobus vertel hy sit rustig in die huis toe hy hom ‘n sagte ‘Help!’ verbeel. Hy stel toe maar ondersoek in. Die geluidjies lei hom buitetoe. Hoenderhok toe. Lizel kniel in die hoendermis met haar hande gevou om’ n klompie eiers in haar hemp se punte. ‘Ek kan nie opstaan nie’ kreun sy. (Bid jou aan. Onse Lizel op haar knieë voor die Hen van henne. Dit kom nou van heul met vreemde afgode!!) Maar sy reken dat die ‘ruggie’ net ‘n lekker Ruiterpadrit nodig het!
Die volgende vuurstorie is die van Emile wat blykbaar in sy huwelik reeds in die hemel is. Natuurlik vertel Alta die storie, maar Emile sprak geen sprook. Iets van die toppunt van huweliksgeluk en ‘n man wie se sokkies nooit ompare is nie… Laat my wonder of ek nie dalk tog moet oorweeg om te trou nie. My sokkies is gedurig deurmekaar!

IMG_20200314_061510 (002)

Intussen kry Jacobus dit reg om ‘n hele paar braaibroodjies in asbroodjies te laat verander. Gail red wat te redde is – sy maak nuwe broodjies van die snye wat bo lê terwyl Alta vol raad is oor 3-sekonde reël en hoe Gail die broodjies mos maar kan afspoel. Sien, Alta se broodjies is laaankal gebraai en sy eet al! Gail neem die braaiery verder met ‘n opmerking van Jacobus dat die vleis ook gaan val. Wat toe gebeur. Het julle geweet Jacobus is ‘n Siener?

IMG_20200314_083143 (002)

Die oggend breek prentjiemooi en windstil aan. Oom Fritz daag op met sy perd. Hy omhels en soen my. Ek vra hom of hy nie bang is vir die liewe virus nie? Hy reageer blitsvinnig met: “Ons moet tog van iets doodgaan”. Inderdaad. En meer mense sterf jaarliks aan griep en tering??

Mr. Delivery, alias Hansie, daag op met my leenperd. So met die oopmaak, lui sy foon en ek kan nie gesels nie. Perd afgelaai, beduie hy ek moet laat weet wanneer ons terugkom en daar gaan Hansie weer. Ek maak perdjie vas en oom Fritz se hings raak erg opgewonde. Ek aanvaar my perd is ‘n merrie, maar kyk nie, want ek moet nog opsaal en almal lyk reg vir ry.

Jacobus dra ons en ons perde aan die Here se beskerming op en ons vertrek. Tien ruiters. Iemand vra my my perd se naam. Ek weet nie, maar sien daar is’ n naamplaatjie aan die toom. Perdjie stap fluks en naamplaatjie wip. Ek maak iets uit. Ka…n. “Karlien” antwoord ek. Iemand sê droogweg. “Dit kan nie ‘n Karlien wees nie, dis ‘n hy”. Jammer Kaptein!!

90282750_10220218424002838_3131272591780610048_o[1]

Ons ry deur wingerde en verby ‘n tamatieland waar ek voel ek kan afklim en my sakke vol tamaties maak. Ek moet nog die aand terug om ‘n sterrekykpiekniek by te woon. Maar moet nog eetgoed kry. In Spar betaal ek R17. 99/200g tamaties en ek wens weer ek het ‘n handvol kon pluk!

89511600_10220218486804408_1166782201589661696_o[1]

Na die wingerde vat ons die veld. Op en af. Die woord ‘vistas’ steek in my kop vas. Dis meer as net ‘n mooi uitsig. Oom Fritz wys ons op ‘n hoë koppie waar sy en Jacobus se beplande sewedagrit gaan loop. Ek wens, maar weet my on-perdryfikse lyf gaan dit nooit maak nie, selfs al kry ek ook ‘n perd. Weet steeds nie hoe my pa op 69 ‘n weekrit saam met my gedoen het nie. Hy was toe nog minder perdryfiks as wat ek nou is! Dalk is ek ook maar ‘made in China’ – hoe sal ek nou weet?

DSC_0022

Iewers ry Jacobus agter Emile en sê vir Emile sy saal is skeef. Emile trap. Jacobus sê nee, jy is steeds skeef. Waarop Emile antwoord: “Dan is EK seker maar skeef!” Nou wie is ek om te stry?

20200314_103727

‘n Hek by ‘n beeskamp laat ons huiwer – wat gaan die duidelik baie nuuskierige beeste doen? Op die end klim oom Fritz af, maak die hek oop en jaag die beeste. Ons ry almal sonder probleme deur. En ek dink weer aan die virus. Gaan haal die wêreld nie dalk die spreekwoordelike bobbejaan agter die bult nie?

Iewers op ‘n stywe draf langs ‘n wingerd hoor ons skielik benoude uitroepe van agter. Een van die plaaslike dames, Michelle, en haar perd se weë het geskei… Emile vertel die skimmelmerrie het so in die ry sy Suzie (die oudste en besadigste perd in die groep) probeer verbysteek. Emile, die ewige heer, trek vir Suzie opsy. Skimmel sien die oop pad en gee vet. Toe die ander sien wat gebeur blok hulle vir Skimmel en so met die derde remslag glip ruiter ietwat ongrasieus af. Gelukkig net twee beserings – bietjie bloed aan Skimmel se bek en ‘n ietwat gebreekte ego van haar ruiter.

IMG_20200314_112413 (002)

Die laaste entjie kampplek toe voel ek die vyf ure in die saal praat met my lyf. Ek wonder reeds hoe ek met grasie gaan kan afklim… My leenperd, Kaptein, stap ongelooflik lekker en vinnig, maar daardie lang treë werk op my lae rug. Nou het ek ook ‘n ruggie, maar niemand om rond te beveel nie. Wonder weer oor daai trou-ding, so in my enigheid…

89498478_10220218466443899_1020654954479616000_o[1]

By die kamp gly ek stadig en allesbehalwe statig van Kaptein se rug af. Ek sien dis na twee. Ek moet 5.30 by my afspraak in Somerset-Wes wees en nog gaan piekniekkos maak. Dit gaan vinnig: perd koudlei en water gee, deur die stort spring, ‘n skyf waatlemoen eet, tent afslaan en ek val in die pad.

Ek stop by my woonstel 3 minute voor vyf en ek ry daar weg met my piekniekkos 5.15. Wat ‘n woelige dag!!!

Baie dankie aan Jacobus en Lizel. Soos gewoonlik was dit ‘n heerlike roete. Wat ‘n voorreg dat ek, ‘n ruiterlose lid, steeds kan saamry. Dankie aan almal by wie ek al perde geleen het. Dit word opreg waardeer.

Anélia Marais

Ns. Vanoggend staan ek met ‘n effense keelseer op. Laat ons hoop dis niks….