
Verlede jaar se paksaal rit nog vars in die geheue en hier is ons alweer. Ons kamp weer Vrydagaand by die Hanekoms op Suikerbossie in die kampterrein wat hulle verlede jaar ook aan ons allokeer het. Die gasvryheid is oorweldigend!! Marius Olivier het weer gereël. Toe ek ongeveer 19:00 Vrydagaand aanland is Marius, Johan Bester en Johan Bredenhand reeds daar met vier perde. Drie om te ry en die vierde een om die drie manne se bagasie te dra. Ons pakkie bestaan ook uit vier perde en ekself, Nicolize en haar man, Daniel deel ook ‘n pakperd tussen ons drie. Ons was skaars daar of Christiaan Rabie en Zanelle daag op met hulle drie arabiere. Ons is nou voltallig vir die aand en verwag vir Etienne Engelbrecht en Yolanda more oggend om 8 uur.

Die oorstaanplek vir Saterdagaand was nie beskikbaar nie en Marius het op kort kennisgewing ‘n ander plek gekry vir Saterdagaand se oorstaan. Hierdie staanplek was nader en baie toeganklik vir motorvoertuie. Dit het gemaak dat die Engelbrechts sonder ‘n pakperd maklik hulle kamptoerusting vir Saterdagaand met ‘n geleentheid kon laat aflaai. Hulle is verskoon hierdie keer. Hulle kon nou genoeg tips vang vir die volgende keer.
Ons het vuurgemaak, gebraai en ou stories verkoop en later langs die vuur en die perde geslaap.

Saterdagoggend om ongeveer 9 uur vertrek 10 ruiters en 13 perde op Suikerbossie se 4X4 roete. Sommige perde is haastig, maar ontspan gou. Ons ry met ‘n tweespoorpad om mettertyd by die Sandfontein toegangspad aan te sluit en daar begin ons die berg vat. Al met die kontoer om met mooi uitsigte oor Suikerbossie en in Kunje se rigting. Middagete is onder ou akkerbome met ‘n lekker koel luggie wat trek. Ons stap teen ‘n lekker pas op die bergpaadjie en kom vroeg by ons kampplek aan. Die perde wei en word later aan die lyne vasgemaak. Dis interessant om te sien wat alles uit die saalsakke uitkom. Mens is nooit te oud om te leer nie. Ons kyk mekaar se paksaals deur en maak planne waar om te verander vir volgende keer.

Daar word weer gebraai en gekuier om die vuur. Sondagoggend begin party ouens vroeg roer. Daar is baie tyd, want vandag is die pad nie so lank nie. Die perde word mettertyd opgesaal en gepak om die laaste skof te doen. Terug by Suikerbossie hou ons bietjie nabetragting en middagete voordat almal weer uitmekaargaan. Dit was ‘n spesiale naweek met baie kameraadskap. Dankie aan almal wat daartoe bygedra het.
Perdegroete
Nic Esterhuyse













