Nicky se rit, Porterville 15 & 16 Februarie 2020

Dit belowe om ‘n baie warm naweek te wees, maar as die weer mens te veel intimideer, sou ons seker baie minder gery het. Vrydagaand is ons almal op Baanbreek, tuiste van Nicky en Elzabe Esterhuyse bymekaar, want ons wil vroeg Saterdag in die saal wees om geleidelik gewoond te raak aan die hitte van die dag. Ons is agt fikse ruiters en perde bymekaar om die bergroete aan te pak. Hennie en Wilhelm v Noordwyk van Ceres. Marius en Mariska Olivier ook van Ceres. Ellen en Maartin Lombaard van Wellington en Nicky en Nicolize Esterhuyse van Porterville.

Die perde is versorg in kampies en stalle om die huis en die ruiters braai en slaap sommer op die stoep. Saterdagoggend is ons om 08:00 in die saal en beweeg in oostelike rigting. Later sien ons die plase Kromfontein en Lindeshof se boorde op ‘n afstand. Die onbegaanbare Olifantsrivier is nou tussen ons en die Koue Bokkeveld. Die rivier is deesdae heeltemal toegegroei van ”Blackwattle” wat dit onmoontlik maak om te perd deur te gaan Koue Bokkeveld toe. Daar is oorblyfsels van Engelse blokhuise wat tydens die Anglo-boere oorlog gebou is om te verhoed dat boere die Olifantsrivier hier oorsteek.

Na sowat 7 km gaan ons die klippe doolhof af. Die perde is almal baie rustig en ons  ry vinniger as gewoonlik tot by die Beaverlac kampterrein waar ons ‘n koue koeldrank geniet voordat ons onder ‘n windbreak in die lemoenboord ons saalsak middagete geniet.

Nou is die terrein beter en ons beweeg vinniger. Dit word warmer, want ons is nou in die Keerom vallei ten suide van Citrusdal. Ons steek die Olifantsrivier oor by n drif in die pad nadat  ons vir ongeveer ‘n uur goed afgekoel het met perde en al. Nou is daar nog sewe kilometer oor tot by ons oornag bestemming waar Elzabe en Daniel vir ons wag met ons bagasie. Ons perde het lekker kampies met groen gras en die ruiters gaan nog ‘n keer bietjie afkoel in die rivier. Ons braai en kuier gesellig en gaan laataand nog bietjie swem, want die besigheid wil nog nie lekker afkoel nie.

Sondag belowe om koeler te wees, maar ons wil teen 12 uur terug wees op Baanbreek sodat die ruiters van ver af nog betyds by die huis kan wees. Na vier kilometer lekker sandpad, vat ons weer die berg om ons sirkelroete te voltooi. Ons stop vir tee en water vir die perde by n buurman waar Daniel en Elzabe vir ons waterbakke uitgesit en volgemaak het vir die perde. Nou die laaste 10 km op die sandpad huistoe.

Dankie aan die ruiters wat kom saamry het. Dit is altyd besonders om ons area met ander te deel.

Groete tot volgende keer.

Nicky Esterhuyse

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s